Los onderwysers se finansiële voordele uit

Beste redakteur

Los onderwysers se finansiële voordele uit

Die herrie wat die minister vir Basiese Onderwys veroorsaak het oor voorstelle vir regulasies vir die inkorting van die bedrae wat as ekstra betaling aan onderwysers gegee kan word, het my genoop om te reageer.

Dit is ‘n onbetwisbare feit dat enige werknemer, in enige rigting, ‘n werk sal kies waar hy of sy waardeer sal word, werksomstandighede goed is en die salaris die moeite werd is. Dit is ongelukkig ‘n feit dat voormalige model C-skole in die posisie is om onderwysers dit te bied.

As ouers tevrede is om te betaal vir addisionale voordele vir onderwysers, hoekom sukkel met iets wat werk? Onderwysers by hierdie skole is gelukkiger want hulle het die nodige hulpbronne, ouers is aktief betrokke en die skole word in stand gehou. Ek glo nie dat die finansiële aansporings wat party skole bied noodwendig beter onderwysers lok nie, maar dit lei beslis tot gelukkiger, meer tevrede en meer toegewyde onderwysers.

Aan die keersy word mens gekonfronteer met ‘n groot hoeveelheid onderwysers wat in skole werk wat sukkel om finansieël kop bo water te hou, hulle het ‘n ernstige tekort aan hulpbronne, hulle moet skoolhou in ‘n vervalle omgewing en ouer-betrokkenheid is beperk tot die absolute minimum.

Hierdie skole kan nie bekostig om hul personeel geldelike voordele te bied nie, maar baie doen eersteklas werk, al tel omstandighede teen hulle.

Dit is tyd dat die regering dit oorweeg om hiérdie instellings te verbeter deur die nodige hulpbronne te voorsien — en hierby bedoel ek nie net basiese handboeke nie – maar behoorlike infrastruktuur en finansiële voordele, eerder as om in te meng met iets wat die verlangde resultate lewer.

Edmund van Vuuren
DA woordvoerder vir Onderwys
Bhisho Wetgewer