Opsporingstelsel wat selfoongebruik in tronke bespeur dalk gou by St. Albans: Die Burger

PORT ELIZABETH. – Selfone in Oos-­Kaapse tronke se dae is getel.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het vandeesweek ’n opsporingstelsel in gebruik geneem waarmee gevangenes se gebruik van selfone met ’n GPS­toestel bespeur kan word.

Die Mthatha­gevangenis was die eerste om dié toestel in te stel en St. Albans in die Baai is volgende.

Dis hier waar Christopher Panayiotou (28), Luthando Siyoli (31) en Sizwezakhe Vumazonke (30) vir die moord op Panayiotou se vrou, Jayde, verhoorafwagtend aangehou word.

Vumazonke is verlede week daarvan beskuldig dat hy van agter tralies via selfoon grappies op die sosiale netwerk Facebook geskryf het.

Zama Feni, woordvoerder vir dié departement, meen dié toestel is ideaal om selfoonsmokkelary in tronke hok te slaan.

“By St. Albans is die gebruik van selfone onder gevangenes ’n reuse­probleem. Ons weet nie aldag hóé gevangenes toegang kry nie, maar met dié toestel kan ons die ligging van die foon maklik optel en dit dan in beslag neem,” het Feni gister gesê.

Hy kon nie sê presies wanneer dié toestel by St. Albans in werking gestel gaan word nie.

Bobby Stevenson, DA­LPW en woordvoerder oor veiligheid en sekuriteit, meen die verbod op selfone in St. Albans, waar vermeende bendelede by dosyne aangehou word, kan moontlik ook bendegeweld verminder.

“Die gebruik van álle selfone – selfs dié van werknemers – moet verbied word. Polisiebeamptes kla dikwels bendes reël die intimidasie van getuies vanuit die tronk. Die selfoonverbod was suksesvol by die Mangaunggevangenis in Bloemfontein en kan beslis hier ook werk,” sê Stevenson.

In die Pollsmoor­gevangenis in Kaapstad het die gevangenes hul eie Facebook­blad.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*


*

YouTube