Leerders en ouers maak self skoon: Die Burger

1 443 niedoserende poste leeg

PORT ELIZABETH. – By Missionvale Primary School in die Baai maak leerders en onderwysers elke dag self hul klaskamers en speelgrond skoon.

Nie noodwendig omdat hulle netheid geleer word nie, maar omdat dié skool in sy 41 jaar nog nooit ’n opsigter of skoonmaker gehad het nie.

Ouers spring soms self in om die toilette hier gratis skoon te hou – mits daar iewers ’n pennie is om hulle te kan vergoed.

Parkside Primary School sukkel glo al vir nege jaar sonder ’n sekretaresse. Die Hoërskool Sanctor en die Laerskool Bethvale is óók in dieselfde bootjie.

“Hier by Bethvale toor ouers en onderwysers maar met skoonmaaken administratiewe werk ook. Daar is nie altyd geld om mense in beheerliggaamsposte aan te stel nie. Maar ons vertrou dat die departement van onderwys hul belofte sal hou om niedoserende personeel aan te stel. Skole kan eenvoudig nie langer sonder dié dienste klaarkom nie,” het Richard Draai, voorsitter van die Laerskool Bethvale se beheerliggaam, gesê.

Die Oos-Kaapse onderwysdepartement (OKOD) het vir die nuwe boekjaar vir 7 080 niedoserende poste, waaronder klerke, sekretaresses, skoonmakers en opsigters, begroot. Altesaam 5 637 is gevul en nog 1 443 is gefinansier, maar ook nog dolleeg.

“So, na wie toe gaan dié 1 443 se salarisse dan? Of was dié geld vir iets anders gebruik?” wou Edmund van Vuuren, DA-woordvoerder oor onderwyser, weet.

Van Vuuren se berekeninge toon dat elkeen van die 5 544 skole in die provinsie dus met gemiddeld een persoon in só ’n pos moet klaarkom.

“Dié skole wat dit kan bekostig, stel maar mense in beheerliggaamsposte aan sodat die skool ordentlik kan funksioneer,” het Barbara van der Walt, provinsiale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), gesê. “Dit plaas skole in ’n baie moeilike situasie. Elke skool het nodig om ’n admin-persoon te hê wat deur die departement van onderwys betaal word.”

Mandla Makupula, die LUR vir onderwys, het verlede week aan skole in die noordelike gebiede wat teen die OKOD opgeruk het, belowe dat dié personeel, saam met onderwysers, spoedig by skole aangestel sal word.

Maar na gelang van ’n moratorium wat glo in 2010 op dié poste opgelê is en nie weer opgehef was nie, mag skole dalk langer sélf die dienste uitvoer.

“Sover my kennis strek, is die moratorium wat in April 2010 op administratiewe poste geplaas is, nooit opgehef nie. Admin-poste wat nie gevul word nie, is onaanvaarbaar. Net soos die SAOU sê dat daar ’n onderwyser voor elke klas moet staan, net so móét daar ten minste ’n admin-persoon in elke skool wees,” het van der Walt verduidelik.

Die OKOD het in ’n dokument oor posvoorsiening wat deur Die Burger gesien is, te kenne gegee dat vakleerlinge in van dié vakante “klerk-poste” aangestel sou word.

Mali Mtima, ’n provinsiale woordvoerder, kon teen druktyd nie kommentaar hieroor lewer nie.