Water­skuld lei dalk tot droë dae — Die Burger

PORT ELIZABETH. – As die Sondagsriviervallei-munisipaliteit dit nie teen Vrydag keer nie, kan sy skuld van R1 miljoen ’n droë Desember meebring.

Die munisipaliteit se skuld aan die Laer-Sondagsrivier-waterverbruikersvereniging hoop glo sedert Julie op weens die munisipaliteit se versuim om die vereniging te betaal, het Vicky Knoetze, DA-leier vir die Zuurberg-kiesafdeling, gesê.

“Die munisipaliteit het ’n finale kennisgewing ontvang om teen Vrydag redes te gee hoekom die watertoevoer nie opgeskort moet word nie,” het Knoetze gesê.

Dié stap sal waarskynlik op 1 Desember gedoen word, maar kan verreikende gevolge vir die provinsie inhou.

“Die sitrusbedryf in dié vallei sorg vir die tweede grootste bydrae tot die Oos-Kaapse ekonomie. As water hier afgesny word, sal dit nie net die inwoners se grondwetlike reg tot water skend nie, maar ook die poste van mense in Addo, Kirkwood en Paterson bedreig.”

’n Opgeskorte watervoorsiening sal niks minder as chaoties wees nie, het Hannes de Waal, besturende direkteur van die Sondagsrivier Sitruskoöperasie, gesê. “Dit sal uiteraard chaos in die gebied afgee,” het De Waal gesê. “Jy kan jou indink dat veral die dorpsgebiede se mense nie tevrede sal wees nie en dit sal ons ook affekteer, hoewel ons planne in plek sal hê vir so ’n gebeurlikheid. Dat dit beslis sal lol is egter seker.

“Ons sal die saak aanhoudend met die munisipaliteit opneem, asook met die nasionale regering as dit moet. Ons is al so lank besig met die probleem dat ons al meganismes ontwikkel het om sake aan die gang te hou.

“Deur die jare het ons al baie sake met hulle opgelos, maar dit is kommerwekkend dat die situasie besig is om te versleg,” het De Waal gesê.

Volgens hom is die Sondagsrivier Sitruskoöperasie, asook die sitrusbedryf as geheel, aktief besig om met die munisipaliteit te onderhandel om te verseker dat die opskorting of inkorting van watervoorsiening nie nodig sal wees nie.

“Een van ons amptenare, Greg Jones, is afgevaardig om ons belange in hierdie saak te hanteer. Hy het ’n goeie verhouding met die munisipaliteit en het reeds met hulle kontak gemaak hieroor,” het De Waal gesê.

Intussen kan vier ander munisipaliteite in die provinsie weens skuld van nagenoeg R170 miljoen aan Eskom dalk ’n donker Desember te wagte wees.

Eskom het gister sy besluit bekend gemaak om die kragtoevoer na die Gariep-, Maletswai-, Ikwezi- en Nxuba-munisipaliteite af te sny omdat dié munisipaliteite nie hul rekeninge binne 15 dae vereffen het nie.

Gariep skuld sowat R43 miljoen, Maletswai R65 miljoen, Ikwezi R14 miljoen en Nxuba R47 miljoen.

“Dié optrede is die laaste stap nadat geen ander plan tot die betaling gelei het nie,” het Eskom in ’n persverklaring gesê. “Ons onderhandel ook met ander munisipaliteite wat versuim om te betaal, maar kan nie hieroor uitbrei nie.”

Die munisipaliteite en inwoners sal egter ’n kans hê om hul kant te stel. “Hulle kan teen 9 Desember in geskrewe kommunikasie aandui hoekom ons nie die krag moet afskakel nie.”

Dié kommentaar kan gestuur word aan die senior bestuurder vir kliëntediens by nxcomments@eskom.co.za.