Premier sal koppe moet laat rol: Die Burger

Só het die Oos-Kaapse onderwysdepartement sy begroting vir die boekjaar 2014-’15 aangewend

Port Elizabeth. – Swak leierskap en swak werksetiek lê volgens die DA aan die wortel van die vrot ouditrekord van die Oos-Kaapse departement van onderwys (OKOD).

Volgens die ouditeur-generaal (OG) moet die provinsie se premier maar sélf sake regruk en beter toegeruste leiers aanstel, want geldsake in dié departement is glo “té beroerd om ’n mening daaroor te gee”.

Mandla Makupula, die LUR vir onderwys, is juis gister in die wetgewer deur die Oos-Kaapse portefeuljekomitee oor onderrig oor die kole gehaal oor ’n reeks onreëlmatighede tydens die 2014-’15-boekjaar.

Dit sluit in talle ontbrekende bestedingsrekords en te veel uitgawes wat as “onvoorsien” aangedui is.

“Die departement oortree hiermee die wet of openbare finansiele bestuur,” aldus die portefeuljekomitee se verslag.

 

Hoewel die OKOD die grootste deel (R28 miljard) uit die provinsie se begroting ontvang het, was dit, saam met die departement van gesondheid en die departement van paaie en openbare werke, verantwoordelik vir 84% van die provinsie se onreëlmatige besteding.

Weens klaarblyklike swak beplanning het die OKOD ook sy begroting vir onder meer die aanstel van onderwysers en administratiewe personeel, die bou en opknap van skole en die verskaffing van meubels met meer as R500 miljoen onderbenut. Dít terwyl die provinsie hunker na meer onderwysers, beter infrastruktuur én om verfblikstoele vir ordentlike meubels te verruil.

Besteding aan administratiewe prosesse binne die LUR se kantoor, korporatiewe dienste, sport en kultuur, tenderprosesse, en eksamens is egter ver bo die begroting.

“Die grootste probleme in dié departement is swak leierskap, swak werksetiek en die feit dat niemand juis vir hul foute aanspreeklik gehou word nie,” het Edmund van Vuuren, DAwoordvoerder oor onderwys en lid van die portefeuljekomitee, gesê.

“Ek kan verstaan dat die ouditeur-generaal sy hande in onskuld wil was en die OKOD se bestedingsprobleme maar aan die premier wil oorlaat. Hy doen elke keer aanbevelings wat nooit hier in werking gestel word nie. Die premier sal maar die koppe moet laat rol.”

Die OKOD moet binne 30 dae reageer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*


*

YouTube