Skole sukkel omdat OKOD nie geld gee: Die Burger

Terwyl skole in die Oos-Kaap gebuk gaan onder tekorte aan onderwysers, meubels en vervoer, het dié provinsie se onderwysdepartement teen die einde van die 2015-’16-boekjaar nog met honderdmiljoene rande gesit.

Só lui ’n verslag van die provinsiale wetgewer se portefeuljekomitee oor onderwys wat gister in die wetgewer ter tafel gelê is.

Die komitee, wat in November verskeie kere met die departement se amptenare vergader het, het bevind dat die administrasie minstens R417 miljoen onder begroting was weens poste in die departement wat nie gevul is nie.

Intussen is nagenoeg R166 miljoen, wat gebruik moes word om onderwysposte te vul en salarisse aan dié nuwe onderwysers te betaal, ook nie gebruik nie.

“Die departement moet planne opstel om die poste te vul. Die komitee moet ook ’n verslag binne 30 dae ontvang waarin die vordering aangedui word, asook wat gedoen sal word met die geld wat nie bestee is nie,” lui die verslag.

Die departement moet ingryp om vervoer beskikbaar te stel aan behoeftige leerlinge, en binne 30 dae ’n oudit-en-vorderingsverslag oor die voorsiening van meubels aan skole lewer. Van die grootste probleme is infrastruktuur.

“Die meeste skole het nie hul begroting vir instandhouding gebruik nie omdat hulle weens finansiële druk dié geld vir ander doeleindes nodig gehad het.

“Boonop is die 2015-’16-begroting vir infrastruktuur met R137 miljoen besnoei, terwyl daar ’n agterstand in infrastruktuurprojekte is en die departement nog nie hul doelwitte vir projekte wat in die 2014-’15-boekjaar begin is, kon bereik nie.”

Volgens Edmund van Vuuren, DA-woordvoerder vir onderwys in die wetgewer, is R530 miljoen van die infrastruktuurtoelae deur die nasionale tesourie teruggeëis weens die departement se versuim om dit te bestee.

“Dit was 33% van die totale toelaag van R1,594 miljard. Die verslag dui op ’n tekort aan toekomsbeplanning, want die meeste van die bevindings weerspieël die probleme van vorige jare.” — Odette Parfitt

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*