‘Premier moet sê wat gaan verander’: Die Burger

Phumulo Masualle, premier van die Oos-Kaap, moet in sy toespraak môre by die opening van die wetgewer sê wat hy gaan verander om dié provinsie op die pad na welvaart te plaas, sê Bobby Stevenson, leier van die DA in die wetgewer.

“Kernveranderinge moet aangebring word in die onderwys, ekonomie, plaaslike regering, in gesondheidsorg en die padnetwerk om mense se lewe te verbeter.

“Onderwys beleef ’n krisis. Die provinsie se matriekslaagsyfer van 59% is die laagste in die land. Van al die provinsies het die Oos-Kaap die hoogste ongeletterdheidsyfer onder mense tussen 16 en 35 jaar oud. Ons het ’n reddingsplan vir die verlore geslag nodig.”

Stevenson sê die werkloosheidsyfer styg steeds en mense verloor hoop op ’n beter toekoms.

“Die provinsiale regering moet die regte klimaat skep om beleggings te lok om werk te skep. Ek sien uit na hoe die premier dit gaan doen.”

Plaaslike regering moet reggeruk word. “Korrupsie, wanadministrasie en kaderontplooiing” moet vasgevat word. Gesondheidsorg moet verbeter en die groot agterstand in die instandhouding van paaie in die provinsie moet aandag kry sodat die ekonomie kan groei, sê Stevenson.

Meer as 1 000 gaste word by die opening van die wetgewer verwag. Onder die genooides is ministers, adjunkministers, diplomate, tradisionele leiers en die uitvoerende bestuur van die huis van tradisionele leiers, sê Velisile Bukula, woordvoerder van die wetgewer.

Lede van die publiek word aangemoedig om na die volgende plekke te gaan om ’n regstreekse uitsending van die verrigtinge te volg:

Alfred Nzo-distriksmunisipaliteit: die Mthayise Apostoliese Geloofsending;

Joe Gqabi-distriksmunisipaliteit: die Venterstad-stadsaal;

Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit: Kookhuis-stadsaal;

O.R. Tambo-distriksmunisipaliteit: Tsolo-stadsaal; Buffalostad-metro: Quzini-plek; Chris Hani-distriksmunisipaliteit: Dongwe-gemeenskapsaal in Whittlesea;

Amathole-distriksmunisipaliteit: Stutterheim-gemeenskapsaal; en

Nelson Mandelabaai-metro: NU 30, Motherwell.

Bukula sê verskeie paaie in die omgewing van die wetgewer sal gesluit word. Motoriste word aangeraai om die Oos-Londen-roete deur King William’s Town te gebruik.

Gaste moet hul toegangskaartjies by die verkeersbeheerpunte toon. ’n Hulptoonbank by die Fort Hare-Universiteit sal kaartjielose gaste help. — Roslyn Baatjies

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*