Eskom dreig om krag te onderbreek: Die Son

DONKER dae lê voor vir inwoners in die Inxuba Yethemba munisipale omgewing nadat Eskom dié munisipaliteit tot môre kans gegee het om ’n uitstaande bedrag van R10,2 miljoen te betaal.

Kobus Botha, die DA se kiesafdelingsleier vir Cradock en Middelburg, sê dié munisipaliteit skuld Eskom altesame R40,4 miljoen. Hy sê Eskom het ’n ooreenkoms aangegaan en soek R10,2 miljoen teen 15 September.

“Dit ooreenkoms is duidelik: As hulle nie die geld betaal nie, sal daar elektrisiteits­onderbrekings wees.”

 Volgens Botha is ’n verslag met inligting daaroor op ’n onlangse vergadering bekend gestel.

Henny Gibson, ’n inwoner van Middelburg, is baie bekommerd oor die kragkrisis.

Volgens Gibson is Middelburg se inwoners al gatvol vir die leë beloftes en stories wat loop oor die krisis.

“Die mense is woedend en voel ongelukkig.

“Daar is ook rumours dat chaos sal uitbreek sodra die krag afgaan.”

Gibson het aan Son verduidelik dat sommige areas vertel is van ’n munisipale vergadering waar almal ingelig sal word oor die moontlike komende blackout.

“Ek het gehoor hulle begin in die lokasies waar hulle vir die mense sal verduidelik wanneer en vir hoe lank hulle sonder krag sal sit.

“Daar is rumours dat die mens tyres op die strate wil brand en die mense praat ook van hoe hulle die munisipale gebou wil afbrand.”

Gepraat

Gibson meen die munisipaliteit is baie onprofessioneel omdat hy geen kommunikasie met die inwoners het nie.

Hy het verder gepraat van hoe die mense geen hoop het vir die munisipaliteit nie.

Volgens Gibson hou die munisipaliteit al sy vergaderings in die geheim, onder ’n tafel.

“Ons as die mense wat hier woon, het ook ’n reg om te weet wat aangaan,” vertel Gibson.

Intussen het Botha verduidelik wat presies aangaan met die munisipaliteit se skuldsituasie.

“Die Eskom-terugbetalingsooreenkoms was om die lopende rekening vir elke maand te betaal, plus ongeveer R1,6 miljoen per maand op die agterstallige skuld.

“Die munisipaliteit het op 18 Augustus vir Eskom R56,5 miljoen geskuld en hy het R10 miljoen op 25 Augustus betaal,” het Botha verduidelik.

Die uitstaande geld daarna was ’n bedrag van R46,5 miljoen.

“ ’n Betaling van R3,9 miljoen is op 7 September inbetaal en die uitstaande bedrag is nou R42,6 miljoen.”

Volgens Botha se verklaring het die munisipaliteit twee luukse voertuie van altesaam R1,2 miljoen gekoop – een vir die burgemeester en een vir die speaker.

“Dít terwyl mense gaan suffer onder Eskom se elektrisiteitsonderbrekings.

“Hierdie het ernstige implikasies vir die welstand van die mense,” sê Botha.

Botha het bevestig dat die DA dié problematiese saak aan Fikile Xasa, die Oos-Kaapse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), sal oorhandig vir nader ondersoek.

Lucky Mulaudzi, woordvoerder van die Inxuba Yethemba-munisipaliteit, het gister teen druktyd nog geen antwoorde gegee nie.

Son het ’n e-pos met navrae aangestuur en verskeie oproepe gemaak. —  Lasheigh O’Ehley