Krisis in plaaslike regering

Beste redakteur

Krisis in plaaslike regering

Plaaslike regering in hierdie provinsie is in ‘n krisis.  Dis welliswaar in ‘n toestand van verval.  Ons beleef aanhoudende munisipale stakings, bande word in die strate gebrand en munisipale amptenare was selfs geiselaar gehou in Uitenhage.  Die bakleiery duur voort in die Metro en in Buffalo City oor die aanstelling van munisipale bestuurders.  Op Addo is die munisipale kantoor aan die brand gesteek!

Die gewone kapasiteitsprobleme duur voort in die meeste plaaslike owerhede:  daar is te veel vakante poste; munisipale regulasies word nie toegepas nie; gewetenlose boukontrakteurs maak nes hul wil met projekte; ANC-kaderaanstellings in plaas van meriete-aanstellings is aan die orde van die dag.

Basiese kwessies soos swak water-kwaliteit, die tekort aan- en verouderde infrastruktuur word op die kwesbaarste lede van ons gemeenskappe afgedwing.

In ten minste agt munisipaliteite is daar munisipale bestuurders wat óf weens beweerde bedrog geskors is, óf  met goue handdruk “bedank” het, óf die pos is eenvoudig nie gevul nie.  En diegene wat geskors is kry steeds salarisse. In een geval sit die munisipale bestuurder al 17 maande by die huis, teen volle vergoeding.

“Rome brand terwyl Nero vroetel”

Soos gewoonlik bly die verkiesingsbeloftes, soos dié van die President oor beter dienslewering, optrede teen lui amptenare, leë woorde.

Die Demokratiese Alliansie is bekommerd oor hierdie stand van sake.  Ek wil inwoners van die Metro graag moed inpraat, deurdat ek ‘n vergadering met die LUR vir Samewerkende Regering gevra het om uit te vind wat hy in die pyplyn het sodat werkbare oplossings gevind kan word.

Die DA se sukses in munisipaliteit wat deur hom bestuur word in die Oos- en Wes-Kaap bewys dat ons beleide werk en dat ons effektief kan regeer.  Ons, die burgers van hierdie provinsie verdien beter, maar ons kry dit nie. 

Dis tyd vir ‘n verandering.  Die 2011 plaaslike regering verkiesings is die geleentheid om dinge te verander en om van die ANC-rade ontslae te raak.

Die uwe

Dacre Haddon LW, Bhisho