Skole kan nie vooruit beplan sonder Onderwyser Diensstate nie

Beste redakteur

Skole kan nie vooruit beplan sonder Onderwyser Diensstate nie

Terwyl die Departement van Onderwys daagliks die matrieks in ‘n advertensie-veldtog in die provinsiale koerante voorspoed toewens vir die eindeksamen, blyk dit egter vooruit-beplanning vir 2010 is van die baan. Of die Departement Onderwyser Diensstate (subs: Educator Post Establishments) vir volgende jaar gaan verklaar en of hy, soos vanjaar, ons skole weer in die steek gaan laat, bly ‘n ope vraag. Geen skool kan behoorlike beplanning doen as hy nie weet hoeveel onderwysers aangestel kan word nie.

Diensstate bepaal hoeveel onderwysers ‘n skool kan aanstel. In antwoord op ‘n vraag van die DA, het Onderwys LUR Mahlubandile Qwase bevestig dat geen Diensstate in 2009 verklaar is nie. Vervolgens moes die 2008-state gebruik word tot dié vir 2009 verklaar is. Ons wag nog steeds en 2010 is twee maande weg.

Deur weereens nie Diensstate te verklaar nie, word die harde werk van onderwysers ondermyn. Skole waar leerlinggetalle toegeneem het, het meer klas kombinasies, wat ‘n groter aantal periodes vir die onderwyser in die klaskamer beteken. Weens die afname in leerdergetalle by ander skole, is die algehele verspreidingsnetwerk van onderwysers heeltemal skeef, in vergelyking met die 2008 Diensstaat. Wat ‘n ontnugtering — party gee minder klas, terwyl ander hulle doodwerk!

Geen onderwysstelsel kan gedy as dit nie volhou word deur die voldoende aantal talentvolle en gemotiveerde leerkragte nie — wat bygesê, ook ordentlike basiese hulpmiddels beskikbaar het. Suid-Afrika het 367 188 onderwysers om vir 12 miljoen kinders klas te gee. Dis ‘n onderwyser:leerling verhouding van 33,4:1. Die DA stel voor dat dié ratio verminder word na 31:1, deur voorsiening te maak vir 30 000 addisionele poste.

Die LUR vir Onderwys moet aankondig of die 2010 Onderwyser Diensstate verklaar gaan word, en wanneer, sodat die Hoof van die Department die nodige inligting aan skole kan stuur.

Edmund van Vuuren

DA woordvoerder vir Onderwys
Bhisho Wetgewer

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *