BANDJIES VIR BOETIES IS DIE AARTSVYAND VAN “Operasie Skoon Oudit”.

beste redakteur

Bandjies vir boeties is die aartsvyand van “Operasie Skoon Oudit”.  (Die Burger, 14 Oktober).

Tot die kop van hierdie aaklige slang vir goed afgekap word, is swak regeringsbestuur ons voorland.  Die Departement van Plaaslike Regering se jongste plan kan nie werk as die ANC voortgaan met sy program van kader-heraanstellings nie.  Dít wat die regering in teorie sê is heeltemal teenstrydig met dit wat die ANC as party in die werklikheid doen.

Kader-heraanstellings is die wortel van alle wanadministrasie en korrupsie in die Oos-Kaap.  Mense word in poste aangestel, nie oor die ondervinding wat hulle het nie, maar oor wie hulle ken.  Dit is lankal ‘n resep vir verloor en gewone burgers sit nou met die flop – soos dit wat  nou in ons disfunksionele munisipaliteit aangaan.

In beide die Nelson Mandela Metro en die Buffalo City Munispaliteit, byvoorbeeld, was daar politiekery betrokke oor die funksies van die munisipale bestuurder.  Heelparty hofsake het reeds kader-heraanstelling onwettig en onkonstiotusioneel verklaar:  dink maar aan die onlangse saak in die Amathole Distriksmunisipaliteit.

Mooi woorde en goeie bedoelings is eenvoudig nie genoeg nie.  Wat ons nodig het is aksie:

1. Hou op om amptenare wat elders gefaal het ‘n maklike uitkoms te gee met ‘n lekker pos in ‘n ander munisipaliteit of staatsdepartment;

2. Laat munisipaliteite toe om die beste mense vir die werk te kies.  Diens aan jou landsgenote kom voor die Party.

3. Hou op om jaar-in en jaar-uit  miljoene te mors op kursusse vir onopleibare amptenare.  Dank hulle af.

4. Tot die regering daadwerklik optree teen swak werksprestasie sal niks verander nie.

Daar was ‘n verbetering in die ouditverslae in munisipaliteite in die Oos-Kaap: in 2007/08 het 54% van munisipaliteite ongunstige opinies ontvang in vergelyking met 73% in 2006/07.  Die vraag bly egter of daar enige optrede was teen swak prestasie.

Die protesgolwe wat deur die land swiep sal verder momentum aanneem soos mense hul frustrasies uithaal teenoor die nuwe elite, wat eenvoudig hulself eerste sit in plaas van Jan Alleman.
Bobby Stevenson
DA Leier in die Wetgewer
Bhisho

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *