Dringende optrede is nou nodig om skandalige sluiting van die Helenvale-kliniek aan te spreek

Issued by Bobby Stevenson, MPL
Skadu-LUR vir Veiligheid en Sekuriteit

Die Helenvale-kliniek se deure is al meer as ‘n jaar en ‘n half weens geweldsmisdaad in die omgewing gesluit – dit ten spyte daarvan dat die kliniek net 200 meter van die Gelvandale-polisiekantoor geleë is.

Die sluiting van die kliniek het ‘n katastrofiese impak op die Malabar-kliniek aangesien dit nou mediese dienste moet verskaf aan inwoners van Helenvale ook.

Ons kan eenvoudig nie terugstaan en toelaat dat bende-aktiwiteite en kriminele elemente oorneem nie.

In antwoord op ‘n parlementêre vraag het Weziwe Tikana-Gxothiwe, Oos-Kaapse LUR vir Veiligheid en Sekuriteit, gesê ten tyde van die Helenvale-kliniek se aanvanklike sluiting, het die polisie aangebied om ‘n gebou op die perseel van die Gelvandale-polisiekantoor beskikbaar te stel vir kliniekpersoneel.

Sien IQP15 Q 34

Dit het egter nooit gebeur nie en sodoende is duisende inwoners van Helenvale van ‘n primêre gesondheidsinstelling beroof en gedwing om na ander woonbuurte te reis om gesondheidsdienste te verkry.

Die Covid-19 pandemie verspei soos ‘n veldbrand in die Nelson Mandelabaai-metro en daarom is dit broodnodig dat die inwoners van Helenvale onmiddellik toegang het tot gesondheidsgeriewe in hul nabye omgewing.

LUR Tikana-Gxothiwe moet dringend ‘n vergadering tussen die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) roep om weer die aanbod van ‘n gebou op die perseel van die polisiekantoor te bespreek en sodoende die Helenvale-kliniek weer operasioneel te kry.

Dis verstaanbaar dat personeel by die Helenvale-kliniek vreesbevange is om met vuurwapens gedreig te word en senuagtig is om na die kliniek terug te keer. Maar die SAPD se aanbod om ‘n gebou op sy perseel beskikbaar te stel, al is dit net tydelik van aard, moet in ag geneem en so spoedig moontlik operasioneel gestel word.

Die polisie moet ook seker maak dat die gebou behoorlike sekuriteit in plek het om die terugkeer van kliniekpersoneel te vergemaklik.

Die sluiting van die Helenvale-kliniek is ‘n aanduiding van die SAPD se mislukte pogings om bendeaktiwiteite en –geweld in die Noordelike Gebiede van Port Elizabeth in die kiem te smoor. Die feit dat kliniekpersoneel en –pasiënte binne ‘n klipgooi van ‘n polisiekantoor deur bendelede geteiken word, is absoluut skandelik.

Die Department van Gemeenskapsveiligheid, wat verantwoordelik is vir die koördinering van die multi-dissiplinêre teen-bendestrategie in die Noordelike Gebiede, moet dringend ‘n plan van aksie ontwikkel vir inwoners om lewens van ‘n hoë standaard te kan lei.

Onmiddellike optrede is nou nodig en nie nog verskonings wat die vind van ‘n oplossing net verder sal uitstel nie.

Boonop het die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het in gebreke gebly om CCTV-kameras, wat moontlike verdagtes kan uitwys en inhegtenisnemings kan verseker, in die omliggende area op te rig.

Ons moet beter gebruik maak van tegnologie, veral CCTV-stelsels, en dit gebruik as ‘n meganisme om misdaad te beveg en skuldigbevindings teen wetsoortreders te verseker.

Die Demokratiese Alliansie sal veg vir ‘n doeltreffende polisiemag, die gebruik van tegnologie en die inhegtenisneming van kriminele om te verseker dat die mense van die Oos-Kaap veilig voel en lewens van ‘n hoë kwaliteit kan lei.

Afrikaans

Engels