Dit is reeds meer as ‘n maand sedert die Nasionale Rampbestuursentrum die droogte tot nasionale ramp verklaar het. Nogtans, ten spyte van talle versoeke deur die Demokratiese Alliansie (DA) dat Premier Oscar Mabuyane daadwerklik moet optree, het die Oos-Kaapse regering nog niks gedoen om droogtegeteisterde boere by te staan nie.
Dit is bykans onmoontlik om te glo dat die Oos-Kaapse regering steeds verkies om anderpad te kyk – selfs nadat die droogtekrisis, wat die provinsie reeds sedert 2015 teister, as ‘n nasionale ramp geklassifiseer is.
Die huidige droogte in die provinsie is by verre die felste op rekord en baie boere is reeds finansieël daardeur geruïneer.
Nieteenstaande die feit dat landbou een van die provinsie se grootste bydraers tot die ekonomie is nie, het die provinsie laas in Oktober 2019 ‘n ramptoestand afgekondig en net R74 miljoen in noodfondse aan boere beskikbaar gestel. Die bedrag was so onvoldoende dat die meeste boere, wat reeds ondersteuning van die regering nodig gehad het, niks ontvang het nie.
Sedert die verklaring van ’n ramptoestand van 2019 weens droogte verval het, het die droogte sy wurggreep op die provinsie verstewig en dit is veral boere in die westelike dele van die Oos-Kaap wat die swaarste kry.
Ondanks goeie reënval oor sekere gebiede die afgelope tyd, bly damvlakke gevaarlik laag. Die watertafel het in sekere gebiede ook reeds so laag gedaal dat talle boere nou met droë boorgate sit. Die katastrofiese droogte het ook ’n wesenlike impak op stedelike waterverskaffing in munisipaliteite soos Nelson Mandelabaai, waar damvlakke nou net op 11,8% van die totale kapasiteit staan.
Boere in gebiede soos Aberdeen, Graaff-Reinet, Willowmore en Steytlerville voer lewende hawe noodgedwonge al vir ‘n geruime tyd voer en kan dit in baie gevalle net nie verder bekostig nie.
Die langdurige voer van lewende hawe is onbekostigbaar vir meeste boere in die Karoo en dus verkeer die meeste van die boere onder geweldige finansiële druk. In sekere gevalle het boere reeds hul boerderyondernemings verkoop. Ander moes spaargeld soos aftree-annuïteite begin gebruik, of selfs verdere verbande oor hul grond uitneem om sodoende genoeg fondse te bekom om hul boerderyondernemings aan die gang te hou.
Ongelukkig is pleidooie vir ondersteuning grootliks deur die provinsiale en nasionale regerings geïgnoreer. Die Nasionale Rampbestuursentrum het eers verlede maand die droogtekrisis as ‘n nasionale ramp geklassifiseer en het weinig gedoen om te verseker dat ‘n verdere nasionale of provinsiale ramptoestand afgekondig word.
Premier Mabuyane se onbereidwilligheid om op te tree, is skandalig. Sy sogenaamde droogtebeheersentrum maak geen impak op die krisis nie. Verder is geen provinsiale begrotingsaanpassings nog gemaak om fondse beskikbaar te maak vir dié wat dit benodig nie.
Die DA daag Premier Mabuyane uit om dringende aanpassings tot die provinsiale begroting te maak sodat broodnodige befondsing onmiddellik beskikbaar gemaak kan word. Ons sal ook ‘n pleidooi tot President Cyril Ramaphosa rig en vra dat hy direk toetree tot die ontvouende krisis.
Ons kan nie bekostig om een van die provinsie se belangrikste sektore verder te kniehalter deur volgehoue traagheid nie.
Afrikaans
Engels